Life To Enjoy


PIANO

Life To Enjoy.mp3

Honest Worthy Body Control.mp3

To Keep It Simple.mp3

Homecoming.mp3

Simbiose.mp3

Let The Pilot Fly.mp3

Twintig.mp3

Ongekende Attribute.mp3

Verlustig.mp3

Liefde, Lig, Suiwer.mp3

Vrolike Ligte.mp3

Verlange.mp3

Lewe In Oorvloed.mp3

Rotsklim Tou.mp3

1. Life To Enjoy

Daar is so baie  om te geniet in die lewe en op die aarde wat spesiaal vir ons geskep is!  Vir my is ware lewe om te erken dat God ons geskep het om te deel in die omvangrykheid van Sy heelal. Om te erken  God is God. Om te luister na die stem hier binne wat dit duidelik maak dat daar so iets is om te sondig. En om te luister wanneer God die Vader, op watter manier ook al, dit oordra dat Hy Jesus Christus, Sy Seun, laat kruisig het, sodat my sondes vergewe kan word. Wat meer kan 'n mens vra om dan so deel te wees van 'n Koninkryk waarin liefde nooit sal vergaan nie?

2. Honest Worthy Body Control

 Ek het Honest Worthy Body Control geskryf op 'n tyd, toe ek weer die waarde van eerlikheid in alle opsigte raak gesien het. Dit was ook 'n tyd wat ek die waarde van ons liggame en hul fantastiese vermoëns meer begin waardeer het.  Dis so maklik om fout te vind met jou liggaam en in die proses nie raak te sien watter wonderwerk ons elkeen se liggame is nie. Dan kan  ons liggame ook nog tempels wees van die Heilige Gees. Op sigself eintlik te wonderlik vir woorde!  Ter selfde tyd, het ek ook besef dat daar van ons kant soms 'n te groot beheer oor ons liggame wil wees. Soos byvoorbeeld wanneer ons liggame aan dui dat ons oormoeg is, hou ons soms net aan. Wanneer ons dors is, drink ons nie noodwendig nie. Wanneer ons honger is, eet ons dalk nie en wanneer ons nie honger is nie eet ons.  As ons siek is, gaan ons nie noodwendig rus nie en gaan net aan. Al weet ons dis sleg vir ons,  doen, drink en eet ons goed wat afbreek doen aan ons liggame. Dit lyk of ons roekeloos kan raak as dit by ons liggame kom en of ons beheer wil neem, wanneer die liggaam Godgegewe beheer het oor dit wat hy kan en moet. Dit gaan hier oor hoe ons na ons wonderlike liggame kyk en dit oppas.

Die vraag is ook of ons eerlik genoeg kan wees met onsself oor waarom ons liggame soms so sleg behandel word.  Dis miskien iets wat meer op vrouens van toepassing is.  Aan die een kant waardeer ons nie altyd ons liggame nie, maar aan die ander kant word daar weer te veel waarde geheg aan hoe ons lyk.  Die uiterlike raak belangriker as die innerlike.   Die moontlikheid is ook daar dat ons vergeet  of nie wil erken/aanvaar dat ons liggaam  tydelik is nie en dat dit sonder uitsondering  verouder. In hierdie opsig is dit goed om te onthou dat dit goed gaan met die mens wat sy sterkte by die Here kry en wat se hart gerig is op 'n pelgrimstog saam met Hom. So mens se droeë valleie word fonteine en sy krag word net meer en meer!  Sy innerlike krag.

Dan was hierdie ook 'n tyd wat ek beheer moes laat gaan oor goed wat ek nie kan beheer nie. Dat daar sekere goed is wat nie binne my vermoëns of reg is om te beheer nie. So die woord  'Control' in die titel moet eintlik wees 'Control  let go'. Maar toe ek  die 'Honest', 'Worthy Body' en 'Control ' so bymekaar sit, toe beteken dit ook weer vir my iets. Honest Worthy Body Control : Eerlike, gewaardeerde liggaamlike selfbeheer.  Wanneer ons eerlik is en ons liggame waardeer vir die wonderwerk wat dit is, raak selfbeheersing  'n bereikbare uitvloeisel.  Hierdie begrip word vir my ingesluit by die woorde dat ons nie 'n gees van vrees ontvang het nie, maar 'n Gees van  krag, liefde en selfbeheersing.  Hierdie stukkie klaviermusiek is eintlik kort,  maar die tyd waarin dit geskep is,  het 'n groot impak op my lewe gehad.  Ek het dit baie bevrydend en verrykkend ervaar.

3. To Keep It Simple

Hierdie stuk gaan vir my daaroor dat wanneer omstandighede in watter sin ook al soms  oorweldigend raak, om net te hou by die mees basiese. Of dit nou 'n tyd van uitermate seën  of 'n tyd van uitermate beproewing is. En om te onthou dat alhoewel daar soms 'n groot storm is, is die damme weer vol as die storm oor is! En om te onthou wanneer dit 'n pragtige sonskyndag is, kan jy aan die einde van die dag verbrand wees as jy nie versigtig is nie. Die mees basiese vir my is om so na as moontlik aan Jesus Christus te bly en te lewe in totale afhanklikheid van ons hemelse Vader sodat die wysheid wat Hy aan ons gee deur Sy Heilige Gees, ons sal weerhou van ontsporing.

4. Homecoming

Een van die lekkerste dinge vir my is altyd as ek weg van die huis was en weer kan terug gaan.  In Matriek was ek in die koshuis en elke naweek as my ma my kom haal het was dit so 'n gevoel van behaaglikheid as ons so oor 'n sekere bult gery kom en daar lê rustige ou Tergniet langs die pragtige, blou see. Dan is ek weer tuis.  Ook op universiteit, was daar dieselfde gevoel as ons op die snelweg so skuins verby Mosselbaai ry en daar lê Robbe Eiland onverstoord op sy plek.  Dis so asof enige impak wat 'n eksamen dalk kon hê, oombliklik iets van die verlede is.  'n Onvergeetlike tuiskoms was na 'n jaar se werk in 'n baie koue land en Afrika se rooi sonsopkoms soos wat net Afrika dit kan doen, verwelkom ons terug. Home sweet home!

 Een keer as 'n dogtertjie van sewe jaar,  het ek ook so 'n gevoel van behaaglikheid ervaar.  'n Studente groep het kom optree in die kerksaal op Groot-Brakrivier en het daardie aand vir ons almal wat daar was die geleentheid gegee om 'n "nuwe skepsel" te word. Die student se aanslag die aand was dat ons herenig kan word met God die Vader, deur te glo dat Sy Seun Jesus Christus vir ons sondes gekruisig is. Dat ons weer gebore word, geestelik gebore word en nuwe skepsels is met 'n Vader in die hemel.  Hierdie gedeelte van om 'n Vader in die hemel te hê, het my oorrompel. Dit was vir my ononderhandelbaar, dis net iets wat ek  moes hê!  Ek kon nie wag om vir my Ouma wat by die huis was te gaan vertel nie, want van dat ek maar kon onthou het sy altyd vir my vertel dat toe sy sewe jaar oud was het sy haar hart vir Jesus Christus gegee.  En met  ekstase het ek die aand by haar kamer ingestap om die heuglike nuus vir haar te gee! 

Dis vir my onvermydelik om nie nou ook te vertel van my jongste seun se verstaan van 'hart vir Jesus gee' nie.  Toe my seuns klein was, het ek en hulle party keer klavier gespeel en lofliedjies vir kinders  gesing.  Die een oggend het ek en hy iets gesing van hartjie vir Jesus gee en hy vra toe vir my wat dit beteken. Hy was toe omtrent so vier  jaar oud en ek het my bes probeer om vir hom te verduidelik.  Daarna wou hy ook sy hartjie vir Jesus gee en ek help hom toe om te bid om dit te doen.  Jare daarna toe gesels ons weer oor 'hart vir Jesus' gee om een of ander rede. Dis toe dat hy met die verbysterende bekentenis kom, dat hy gedink het dat hy sy regte hart moet laat uithaal en dit vir Jesus gee. Maar hy het gevoel dat hy dit gaan doen, want as pappa en mamma kan en ons leef nog, kan hy ook!

As ek vandag terugkyk op my lewe, was my 'tuiskoms' in die hemelse Koninkryk met die gepaardgaande hemelse Vader wat ek gekry het, die rede waarom ek kan verstaan waarom Dawid kon sê : ' Ek sal U loof! U het my van voor en van agter beskerm. U hand op my kop gelê. Daar is geen plek waar U nie by my is nie, nie eers stiknag donker nie. Want lig en donker is vir U dieselfde. In moederskoot het U my self gevorm en my dae uitgelê. U mooi gedagtes oor my is meer as die korrels van die sand.'  Ek kan ook verstaan waarom Dawid kon sê dat dit goed gaan met die mens wat sy sterkte van die Here kry. So mens se droë valleie word omskep in fonteine. Sy krag word net meer en meer tot hy eendag sy Maker van aangesig sien.  Dit was 'n droë vallei om groot te word sonder die teenwoordigheid van 'n fisiese vader. Van die ouderdom van sewe jaar was dit 'n onuitputlike fontein van liefde, krag , beskerming en guns van 'n hemelse Vader!

5.  Simbiose

Terwyl die Sokker Wêreldbeker in Suid-Afrika was, het dit vir my opgeval dat buitelanders ons land so gasvry ervaar.  Dat hulle eerstehands by ons Ubuntu kom ervaar het, 'n verrassende teenstelling met die algemene  vrees vir misdaad. 

Nelson Mandela het verduidelik dat  een aspek van Ubuntu is wanneer 'n reisiger stop by 'n dorpie of gemeenskap, hoef hy nie te vra vir kos en water nie. Die mense bring vir hom wat hy nodig het en sorg dat hy op die koop toe 'n goeie tyd het saam met hulle. Verder het hy ook genoem dat Ubuntu nie beteken dat jy nie jouself mag verryk nie, maar of jy dit doen tot voordeel van die gemeenskap waarvan jy deel is.

Volgens Desmond Tutu is 'n persoon met Ubuntu oop en beskikbaar vir ander mense, sien die goeie raak in ander, voel nie bedreig deur ander se goeie eienskappe nie want hy/sy het het 'n goeie begrip dat hy/sy deel is van 'n groter geheel. En dat die geheel beïnvloed word deur die suksesse, mislukkings, voorspoed en teëspoed van die individu. Ubuntu verwys ook daarna dat mense nie in isolasie ten volle mens kan wees nie en dat mense interafhanlik is van mekaar.  Mense met Ubuntu is bekend vir hul vrygewigheid.

'n Liberiese vryheidsaktivis, Leymah Gbowee,  het sover gegaan om Ubuntu as volg te definieer : ' Ek is wat ek is oor wat ons almal is.'

Hierdie Ubuntu het my ook laat dink aan die begrip simbiose. ( Simbiosis [Grieks: sim = saam + biosis = lewe]) Verskillende vakrigtings gee spesifieke betekenisse en definisies aan die woord simbiose. 'n Algemene definisie van simbiose is enige  interafhanklike verhouding of 'n verhouding wat tot wedersydse voordeel is van mekaar.  

Maar nog lank voor die begrippe simbiose en Ubuntu met ons was, was daar opgeskryf oor wat liefde is. Liefde is vriendelik en geduldig. Dis nie jaloers nie, vol van homself of verhewe nie.  Liefde is waardig, ag ander se belang hoog.  Dis nie kort van draad en hou nie boek van die kwaad nie.  Liefde juig oor die waarheid, maar nie oor onreg nie.  Liefde bly stil oor ander se foute en ondersteun.  Liefde hou aan om te hoop en vertrou.  Dit seëvier oor alles en sal nooit ophou nie!

Hierdie Goddelike geïnspireerde woorde van die apostel Paulus, het reeds vir ons aangedui dat om mens te wees, is om dit te doen op so manier dat dit voordelig is vir die wat saam met ons lewe! 

Dis waaroor dit vir my gaan in die stukkie musiek : Ons interafhanlikheid van mekaar en dat ons nie sonder mekaar kan lewe nie.  Ons het mekaar nodig.

6. Let The Pilot Fly

Meeste van ons sal dit seker nie oorweeg om tydens 'n vlug die passasiersitplek te verlaat en die vliegtuigloods te vra om by hom oor te neem nie.  Selfs al kan jy, sou dit vreemd wees.  Meeste van ons glo ek, sit lekker terug en ontspan terwyl die loods sy werk doen. Hierdie gedagte het by my opgekom toe ek een keer gelees het dat Moses met Isreal gepraat het toe hulle op die drumpel was van die beloofde land. Hulle was baie bang en het gesê dat die mense van die land hulle stede se mure tot teen die hemel bou en dat daar selfs reuse is! Moses uiter toe die fantastiese woorde : "Moenie bang wees nie! Die Here julle God is voor julle en Hy sal vir julle veg."(Deut.1:29)  Dit is so dat ons nie te gereeld voor so groot uitdaging kom nie, maar dat ons wel in ons lewens dikwels in situasies kan wees waar die mure vir ons tot in die hemel gaan. Wanneer 'n mens eintlik besef hierdie situasie is bo my vuurmaakplek.  En dit is wat vir my so verligtend  was om te besef dat die Here ook vir Sy kinders vooruitgaan en die oorlog veg al is daar reuse wat oorwin moet word.  Ek self hoef nie die vliegtuig by die huis te kry nie, daar is 'n loods. Ek  hoef nie alles self te doen om soos Paulus gesê het die wenpaal te bereik nie.

Ek hoef ook nie die ander passasiers by die huis te kry nie, dis ook die loods se werk.  Ek en die ander passasiers is almal in dieselfde omstandighede, in die hande van die loods.  Ook die insig hiervan is so gerusstellend om te weet dat die Here nie net vir my die oorlog veg nie, maar vir almal wat Hom dien.   

As passasiers staan ons ook in 'n spesifieke verhouding met mekaar. Dit sou onvanpas wees as  een passasier opstaan en vir al die ander passasiers vra of hulle gemaklik is.  Dit gaan hier vir my ook daaroor dat ons te alle tye in ons interafhanlike bestaan wat ons saamlewe, die grootste respek en agting daarvoor moet hê dat elke mens die voorreg het om sy/haar menswees te leef voor en saam God. Soos daar geskryf staan :"Elkeen moet sy lewe in eerbied en respek voor die Here uitwerk. Soos die gelykenis van die landbouer, die druiwestok en die loot ook oor dieselfde gedagte gaan.  Elke loot groei  eers op sy eie, maar as deel van die hele plant.  As die loot groei, begin dit van nature 'n aandeel lewer in die plant as geheel deur byvoorbeeld skaduwee te gee vir 'n ander loot se druiwetros en om vrug te dra.  Dit sou ook redelik verregaande wees dat die een loot  sou kon besluit dat dit nou tyd is om bietjie van die ander lote te help om te groei.  Al wat die loot hoef te doen, is om vas te bly aan die druiwestok. Een loot kan ook nie vir die ander loot vas bly aan die druiwestok nie.  Dit is my vaste vertroue dat dit ook waar is vir gelowiges in Jesus Christus. Ons moet elkeen afsonderlik net by en in Hom bly, dan sal ons van nature wees wie en wat ons moet wees.  

Wat ook opvallend is van passasiers is dat daar geen kompetering is terwyl daar gevlieg word nie. Daar is 'n rustigheid en 'n vertroue in die loods om die eindbestemming te bereik. Passasiers stel ook nie verwagtinge aan ander passasiers om die rol te vervul van die loods nie. Dit klink eintlik ondenkbaar, maar tog kan dit gebeur dat ons soms ander mense op 'n troon kan plaas en selfs in afhankliheid van hulle leef. 'n Afhanklikheid en eerbied  wat net hoort by die Een wat ons gemaak het.  Passasiers is ook nooit te besig nie. Meeste passasiers organiseer hulself om 'n rustige vlug te kan hê.  Onder leiding van die loods en kajuitpersoneel, is dit 'n goed bestuurde reis.

Die interessantheid van 'n reis met 'n groot vlug, is dat dit nooit gejaagd voel nie. Tensy daar 'n noodgeval is van siekte of turbulensie of een of ander krisis, is daar 'n besondere rustigheid waarmee alles gebeur. En dit ten spyte van die verbysterde spoed waarmee daar beweeg word!  Dit laat my ook daaraan dink dat die aarde besig is om teen ongeveer 1600km/h om sy eie as te draai. En dan beweeg die aarde teen ongeveer 29,783 km/s om die son!  Ons is elke dag besig om teen 'n massiewe spoed te reis op hierdie aarde en vir ons voel dit of die aarde stil staan!  As 'n mens die kragte en vermoëns wat hiermee gepaard gaan oordink, dan is daar 'n besef dat wanneer ons lewens in dieselfde Hande is, ons 'n reis kan beleef wat met die grootste almag bestuur, gerig en gelei kan word teen  'n verbysterde spoed. Maar met beheer en kalmte!

7. Twintig

Twintig is opgedra aan my man om dankie te sê met ons twintigste huweliksherdenking.  Om dankie te sê vir 'n saamleef wat hy vir sy gesin om hom lekker en interessant maak.  En altyd hulle belange met liefde eerste stel.  Dis ook 'n dankie sê vir sy lewe wat vir my 'n blik gee op die Bruidegom wat aan die regterhand van ons hemelse Vader sit. 'n Bruidegom wat Sy lewe afgelê het sodat Sy Bruid kan leef en kan leef in oorvloed! . 'n Bruidegom wat uitsien na die ontmoeting met Sy Bruid en wat besig is om haar voor te berei vir die Bruilofsfees van alle tye!

8. Ongekende Attribute

Toe Lazerus oorlede is, was die mense om hom baie ongelukkig en hartseer omdat Jesus nie betyds opgedaag het om hom gesond te maak nie. Wat hulle nie geweet het nie is dat Jesus Christus hom weer fisies kon laat leef! Daar is eienskappe/attribute wat hulle nie van Hom geken het nie.  So glo ek dat daar ook baie attribute van ons drie-enige God is wat ons nie ken nie.  Dat dit 'n nimmereindigende reis en avontuur is om Hom te leer ken! En om ook jouself saam met Hom te leer ken.

9. Verlustig

Dawid het gesê verlustig jou in die Here en Hy sal vir jou gee die begeertes van jou hart!

10. Liefde, Lig, Suiwer

Ons Here, ons God, is liefde.  Ek glo Hy wil hê dat almal in 'n liefdevolle verhouding met Hom moet staan. 'n Verhouding wat Hy wil hê ons uit eie keuse moet maak. 'n Verhouding waarin Hy soveel respek vir ons het, dat Hy nie daardie keuse vir ons maak nie.

Dawid het gesê dat daar geen plek is waar ons kan gaan waar God nie by ons is nie. Nie eers die diepste stiknag donker nie, want vir Hom is lig en donker dieselfde. Johannes het geprofeteer dat daar nie 'n son en maan in die nuwe aarde sal wees nie, want die Lam van God is self die Lig!

Om suiwer te wees is om sonder enige vlek, rimpel en gebrek te wees. Jesus Christus was mens soos ons, maar die suiwerste vorm daarvan. Sonder enige sonde, totaal heilig. Jesaja het profeteer dat Hy nie sal roep en hard skree nie, Hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand sal Hy nie uitdoof nie.

11. Vrolike Ligte

Soms sien 'n mens 'n groot dorp of stad se liggies flikker van ver af! Juis omdat dit so flikker lyk dit altyd so lewendig en vrolik vir my. Soos 'n vrolike vlammetjie van 'n vuurtjie wat warm maak of nog lekker kole gaan maak om op kos te maak.  In die Psalms staan daar die vlam van 'n Koningskind brand vrolik!

12. Verlange, kan nie wag

Die hele aarde sien uit dat Jesus Christus weer moet kom! Op skool of universiteit voel dit mos soms of die eksamen nooit gaan einde kry nie! En daardie wag vir die vakansie raak soms intens! Ja, soms raak die verlange vir Jesus Christus se wederkoms groot. 'n Verlange na 'n saamleef waar al die trane afgedroog is, waar niemand meer iets verkeerd kan doen nie, waar ons in volmaakte simbiose saam leef.

13. Lewe In Oorvloed

"Vra vir My en Ek sal vir jou die Heilige Gees gee." Dis die aanbod wat ons hemelse Vader aan ons maak! Dis lewe in oorvloed!

14. Rotsklim Tou

Om in die skadu van die Here te leef is 'n veilige plek. Maar 'n rotsklimmer kan gly en word dan gevang deur sy klimtou.  'n Rotsklimmer is soms op baie gevaarlike en ongemaklike plekke. "Ek hou jou in die holte van My hand"."Niks kan jou skei van die liefde van Christus nie." Twee onherroeplike beloftes van ons hemelse Vader.


                                                                                      http://www.michelle-lize.co.za 

Make a Free Website with Yola.